Beste studente en kollegas
Soos die Universiteit op Vrydag 20 Mei 2022 aangekondig het, het die Rektoraat in oorleg met studente- en fakulteitsleiers
besluit om die eksamentydperk vir die eerste semester met ’n week uit te stel. Hierdie buitengewone stap is gedoen in die lig van die impak van die afgelope week se traumatiese gebeure op ons studente se geestestoestand en gemoed. Die US-leierskap
het tot die gevolgtrekking gekom dat dit in ons studente se belang sou wees om hulle tyd te gun om die eksamen in ’n rustiger stemming te benader. Klik gerus hier vir Vrydag se kommunikasie.
Hierdie skrywe bied verdere duidelikheid oor die hersiene eksamenrooster en datums vir die assesseringstydperk van Mei/Junie 2022.
Hersiene algemene datums
- Mei/Junie-eksamen (eerste geleentheid): 30 Mei tot 20 Junie
- Mei/Junie-eksamen (tweede geleentheid): 21 Junie tot 2 Julie
- Einde van Mei/Junie-assesseringstydperk: 2 Julie
- Reses: 3 tot 17 Julie
- Aanvang van tweede semester: 18 Julie
- Laaste dag om uitslae te laai: 22 Julie
- Laaste dag vir tweedesemesterregistrasie en program- en modulewysigings: 29 Julie
Studente kan hulle hersiene rooster op die studenteportaal bekom. Die hersiene eksamenrooster vir Mei/Junie 2022 is ook hier te kry.
Ons versoek asseblief dat studente wat assesserings met deurlopende evaluering en halfjaartoetse vir jaarmodules moet aflê, hulle onderskeie departemente vir die jongste inligting raadpleeg.
Meer as 100 van ons studenteleiers, waaronder prims, voorsitters van verenigings en die Studenteraad, sowel as die leiers van ons fakulteite was verenig in hulle versoek vir hierdie uitstel. Ons is sensitief vir die impak van die onlangse
gebeure op ons hele gemeenskap, en daarom was hierdie besluit noodsaaklik om ál ons studente die beste moontlike kans op sukses in hulle eksamens en assesserings te bied. Hoewel ons begryp dat die besluit ontwrigting veroorsaak, behoort die uitstel
beskou te word as ’n belegging in die welstand van ons studentegemeenskap en die Universiteit in die geheel.
Ons wens ál ons studente voorspoed toe met hulle laaste voorbereidings.
Vriendelike groete
Dr Ronel Retief
Registrateur