Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe logo vir Universiteit Stellenbosch bekend gestel
Outeur: Stellenbosch University / Universiteit Stellenbosch
Gepubliseer: 13/04/2021

​Die reis na 'n nuwe handelsmerkidentiteit vir die Universiteit Stellenbosch (US) het 'n belangrike mylpaal bereik toe die Raad vandag (Dinsdag 13 April 2021) 'n nuwe logo vir die instelling goedgekeur het. Die nuwe 'S'-stroomlogo sal die 'S'-blaarlogo vervang wat sedert 2000 in gebruik is.

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, sê: “Handelsmerkposisionering is van deurslaggewende belang vir universiteite wêreldwyd en beïnvloed uiteindelik hul reputasie, ranglysposisie en finansiering. Ons nuwe logo is modern en gestroomlyn, maar het ook steeds die gravitas van 'n klassieke en elegante logo met 'n onmiddellike teenwoordigheid en sigbaarheid, en pas dus goed by 'n instelling van wêreldklas- akademiese statuur wat daarna streef om teen 2040 Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees."

Die warmte en lewenskrag van Afrika

Die kern van die nuwe logo-ontwerp bestaan uit twee elemente: Die eerste is die 'S' van 'Stellenbosch', waarvan die ritmiese lyne die warmte en lewenskrag van ons vasteland weerspieël. Tweedens vorm die lyne strome wat ononderbroke binne-in 'n 'U' vir 'Universiteit' vloei.​

Prof Elmarie Costandius, senior dosent in Visuele Kunste en lid van sowel die Universiteit se Visuele Regstellingskomitee as die logo-ontwerpspan, beskryf die nuwe US-logo as “kenmerkend, gepas, treffend en tydloos". “Die ritmiese lyne van die herhalende 'S', sowel as die teenstellende ruimtes tussenin, herinner ons aan entopiese simbole wat oor kulture en tale heen strek," sê sy.

Die nuwe logo bevat ook die woorde 'Stellenbosch' en 'Universiteit', in elk van die drie Suid-Afrikaanse tale wat die instelling gebruik, naamlik Engels, Xhosa en Afrikaans.

Die US se institusionele slagspreuk, “forward together, sonke siya phambili, saam vorentoe", óók in die Universiteit se drie tale, maak die laaste element uit, en alle komponente van die logo is saamgebind in 'n samehangende geheel.

Omdat die kleur maroen die mees herkenbare en kenmerkende handelsmerkbate is wat die US van sy mededingers onderskei, is dit as die US se primêre kleur behou. Daarbenewens word die kleur goud gebruik om die US se onwrikbare verbintenis tot uitnemendheid voor te stel. 'n Uitgebreide kleurpalet sal in toepassings van die logo gebruik word om die aardsheid en dinamiek van die Universiteit se natuurlike omgewing te weerspieël.

Omvattende oorlegpleging

Prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering, wat die handelsmerkinisiatief lei, sê die proses om die nuwe identiteit te ontwikkel, het op uitgebreide oorlegpleging berus. “Die nuwe logo is gesamentlik geskep ná uitgebreide skakeling met die vernaamste Universiteitsrolspelers. Ten minste 3 100 belanghebbendes het deelgeneem en tot die proses bygedra."

In sy kommentaar voeg mnr Xola Njengele, voorsitter van die Studenteraad, by: “Die raadplegende aard van die kreatiewe proses om die US se nuwe visuele identiteit te ontwerp sal beslis 'n spesiale band met die nuwe handelsmerk tot gevolg hê."

Volgens prof Klopper het 'n omvattende oudit in 2018 op die behoefte aan 'n gedifferensieerde handelsmerkposisionering gedui. “Werk aan die nuwe visuele identiteit het in November 2019 begin met die aanstelling van die handelsmerkagentskap, Boomtown, wat ook die finale weergawe van die logo ontwerp het in oorleg met die US se handelsmerkspan en mnr Iaan Bekker, 'n kreatiewe bestuurskonsultant en die ontwerper van Suid-Afrika se landswapen."

Mnr Glen Meier, uitvoerende hoof van Boomtown, sê: “Ons is baie opgewonde oor die impak wat die nuwe logo sal hê om die US vorentoe te neem om sy visie te verwesenlik."

By die aanvaarding van die nuwe logo het mnr George Steyn, voorsitter van die US Raad, gesê: “Die nuwe US-logo gee op kreatiewe wyse uiting aan waar ons nou is en waar ons onsself in die toekoms voorstel. Die viering van die US se eeufees in 2018 het 'n belangrike geleentheid gebied om te beplan vir die toekomstige US wat ons graag wil skep. Dít het ons met Visie 2040 gedoen, en die nuwe logo kry dit nou reg om daardie visie visueel saam te vat, maar vind ook die regte balans tussen 'n instelling met 'n nalatenskap en die behoefte om vooruit te beweeg, die toekoms in."

  • Verdere inligting

    Klik gerus hier vir die toegewyde handelsmerkwebblad wat op die US-webtuiste geskep is. Hier sal jy verdere inligting kry, waaronder antwoorde op gewilde vrae. Dit sluit ook 'n kort dog baie opwindende video in wat ons nuwe logo bekend stel. Of klik hier om sommer dadelik na die video te kyk.